Sidney Poitier

Sidney Poitier
'n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Sidney Poitier, KBE

Geboorte 20 Februarie 1927
Miami, Florida, Verenigde State
Sterfte 06 Januarie 2022 (op 94)
Los Angeles, Kalifornië, Verenigde State
Nasionaliteit Amerikaans, Bahamiaans
Beroep(e) Akteur, regisseur, skrywer, diplomaat
Aktiewe jare 1943–2001 (as akteur)
Internet-rolprentdatabasis-profiel

Sir Sidney Poitier, KBE[1] (20 Februarie 1927 - 6 Januarie 2022) was ’n Amerikaans gebore Bahamaanse akteur, regisseur, skrywer en diplomaat.

Hy was in 1964 die eerste swart persoon wat ’n Oscar vir beste akteur gewen het,[2] vir sy rol in Lilies of the Field. Hy het dié eer in 1967 gestand gedoen deur in drie suksesvolle rolprente te speel: To Sir, with Love, In the Heat of the Night en Guess Who's Coming to Dinner – dit het hom die suksesvolste ster van die jaar by die loket gemaak. In 1999 het die American Film Institute hom aangewys as een van die grootste sterre van alle tye (no. 22 op die lys van die top-25).

Poitier het verskeie gewilde rolprente geregisseer, soos A Piece of the Action, Uptown Saturday Night, Let's Do It Again (saam met sy vriend Bill Cosby) en Stir Crazy (met Richard Pryor en Gene Wilder). In 2002, 38 jaar ná sy eerste Oscar, het hy ’n ereprys ontvang vir sy "merkwaardige prestasies as kunstenaar en mens".[3]

Hy was van 1997 tot 2007 die Bahamas se ambassadeur in Japan. Op 12 Augustus 2009 het die Amerikaanse president, Barack Obama, die Presidensiële Vryheidsmedalje, die VSA se hoogste burgerlike toekenning, aan Poitier toegeken.[4]

  1. Omdat Poitier ’n burger is van die Bahamas, ’n lid van die Statebond, is dit ’n effektiewe ridderskap (teenoor ’n ereridderskap) wat hom toelaat om die titel "sir" te gebruik. Hy gebruik dit egter net in verband met sy amptelike pligte as ambassadeur.
  2. Awards for James Baskett, Internet Movie Database
  3. Sidney Poitier awards: Academy of Motion Picture Arts and Sciences awards database
  4. Artikel 12 Augustus 2009 Washington Post

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search